AGTERGROND GESKIEDENIS VAN LAERSKOOL ARISTEA
Laerskool Aristea, geleë in Kraaifontein in die Wes-Kaap, open sy deure in 1976 met 17 onderwysers en 455 leerders. Mnr. M. van Huysteen was vanaf 1976 – 1993 die skoolhoof. In 1994 neem Mnr. Neil Marais die leisels oor en staan aan die stuur van sake tot einde 1998. In 1999 word Mnr. Pierre Boshoff as skoolhoof aangestel en vir die volgende 20 jaar bestuur hy die skool. Onder sy bekwame leiding groei die skool tot ‘n onderrig-instansie met ongeveer 1175 leerders vanaf Graad R – 7. Tegelykertyd groei die personeel tot ongeveer 65 wat onderrig personeel, administratiewe personeel, assistente en ondersteuningspersoneel insluit. Die huidige skoolhoof, Mnr. Werner Ebersohn, is vanaf Januarie 2020 aan die stuur van sake.
Die skoolwapen is in 1979 teen ‘n koste van R150.00 geregistreer. Die Aristea-blom wat uitgebeeld word is ‘n blommetjie wat vanaf die Sahara Woestyn in Noord-Afrika, tot in die Kaapse Skiereiland, asook op die eiland van Madagaskar voorkom. Die blommetjie groei gewoonlik naby vleie of teen berghange en heuwels.
Die leuse van die skool is Excellentior wat, ‘Net die Beste’ beteken.
Laerskool Aristea het in Februarie 2001 ‘n groot ramp beleef toe die skool se saal afgebrand het. ‘n Forensiese ondersoek het getoon dat brandstigting vermoed word, maar die skuldiges is nooit vasgetrek nie. ‘n Nuwe saal is opgerig met die gelde wat deur die skool se versekeringsmaatskappy uitbetaal is.
Die gemeenskap in Kraaifontein bestaan uit ‘n diverse groepering van Suid-Afrikaanse burgers en daarom maak die skool voorsiening vir ‘n diverse groep leerders en onderwysers.
Voldiensskole:
Aristea het homself as ‘n voldiensskool verklaar omdat ons ons gemeenskap in sy geheel wil dien. As ‘n voldiensskool:
- is ons ‘n hoofstroomonderwysinstelling is wat gehalteonderwys aan alle leerders verskaf deur die volle reeks leerbehoeftes op ‘n billike wyse te voorsien,
- is ons ‘n gewone openbare skool,
- kan ons toegang gee aan alle kinders wat in die opvanggebied van die skool woon, ongeag hul leerbehoeftes,
- bevorder ons ‘n verwelkomende en aanvaarde omgewing wat ‘n gevoel van behoort vir beide leerders en hul ouers bevorder,
- bied ons ‘n wye reeks ondersteuning by die skool aan om te verseker dat alle leerders sinvol aan onderwys deelneem en
- is ons verbind tot die ontwikkeling van inklusiewe onderrigvaardighede om diverse leerderbehoeftes te akkommodeer.
Die skool het tans 4 Graad R-klasse bestaande uit 1 Afrikaanse- en 3 Engelse klasse. Vanaf Graad 1 – 7 is daar 5 klasse in elke graad met 2 Afrikaanse- en 3 Engelse klasse. As ‘n voldiensskool is daar dus ‘n LSEN klas waar leerders met leerstoornisse onderrig word. Rekenaarklasse word ook vir leerders vanaf Graad 2 – 7 aangebied.
Die skool bied die volgende sportsoorte vir al die leerders in die skool aan, nl. atletiek, tennis, krieket, rugby, netbal, hokkie, landloop en skaak.
Op kultuurgebied is daar drama, junior- en senior koor en ‘n orkes vir leerders wie belangstel. Die musiek-departement bied ook musieklesse in kitaar, blokfluit en klavier aan.
Laerskool Aristea kan met trots sê dat ons op enige gebied met die beste van skole kan meeding. Die harwerkende, lojale en gemotiveerde personeel sorg dat ons leerders in totaliteit opgevoed word, sodat hulle eendag hul skoene in die grootmenswêreld met vertroue kan volstaan.
Die skool beskik ook oor ‘n nasorgfasiliteit waar leerders in ‘n veilige omgewing kan werk en speel, terwyl hulle wag om deur hul ouers afgehaal te word.
VISIE EN MISSIE VERKLARINGS
Visie
Aristea streef daarna om uitstaande diens aan ons kliënte, naamlik ons ouers en leerders te lewer.
Missie
Aristea is ‘n dinamiese multi-kulturele onderwys-inrigting waar goedtoegeruste onderwysers daarna streef om die kind in sy/haar totaliteit op te voed (akademies, kultureel en op die sportveld) op ‘n wyse wat hulle sal aanmoedig om hul volle potensiaal te bereik.
WAARDES
Laerskool Aristea onderneem om die volgende waardes by sy leerders tuis te bring:
- Eerlikheid
- Respek
- Regverdigheid
- Verantwoordelikheid
- Selfdissipline
- Lojaliteit
- Deursettingsvermoë
Die Transform 2 Perform (T2P) komitee het ook die volgende waardes bygevoeg:
- Liefde
- Spanwerk
- Integriteit
- Omgee
- Aanvaarding
Vir ‘n individu om die voorregte van ‘n gemeenskap, klub of instansie te geniet, moet hy of sy by die reëls en normes van daardie gemeenskap, klub of instansie hou. Wanneer ‘n leerder by Laerskool Aristea ingeskryf word, word hy of sy outomaties deel van ons gemeenskap. Reëls en regulasies bestaan om die hoogste moontlike standaarde van gedrag aan te moedig om die Aristea gemeenskap so vlot moontlik te laat verloop. Gesonde verstand, ordentlikheid en bekommernis oor die welstand van ander moet enige stelsel van reëls onderskryf. Daar word dus van Laerskool Aristea se leerders verwag om op so ‘n wyse op te tree dat dit die Skool sal vereer, waar hulle hulself ookal mag bevind.
Laerskool Aristea het onderneem om ‘n waardegedrewe skool te wees. Die Gedragskode van Laerskool Aristea is dus gesetel in die waardesisteem wat die skool as sy eie aanvaar het. Elke kind word dus opgevoed en aangemoedig om dieselfde waardesisteem te aanvaar en te gehoorsaam sodat dit sy of haar gedrag in die skool positief sal beïnvloed.
Die volgende 12 waardes is deur die skool aangeneem en word op ‘n maandelikse basis op verskeie wyses in die skool bevorder:
- Januarie – lojaliteit
- Februarie – liefde
- Maart – respek
- April – selfdissipline
- Mei – verantwoordelikheid
- Junie – spanwerk
- Julie – deursettingsvermoë
- Augustus – integriteit
- September – eerlikheid
- Oktober – omgee
- November – regverdigheid
- Desember – aanvaarding
Van elke leerder in die skool word verwag om hierdie spesifieke waardes na te streef. Van opvoeders word verwag om hierdie waardes uit te leef en deurgaans positiewe en progressiewe dissipline toe te pas.
ARISTEA SKOOLLIED
Uit jou waterryke bodem
tussen heuwels rustig blou
spruit ‘n blom so rein en enig
word simbool van plig en trou.
Dis die skool wat voortbou
op verlede sterk en skoon
aan ‘n toekoms wat die deugde
van ‘n edel volk sal toon.
Met geloof in God en volk en land
wil ons werk en speel en leer.
Aan jou, Laerskool Aristea,
bring ons roem en lof en eer.
FASILITEITE