Laerskool Aristea

KUNS EN KULTUUR

Op kulturele gebied streef Laerskool Aristea daarna om ons leerders na groot hoogtes te voer. Kultuurbedrywighede vorm deel van Laerskool Aristea se daaglikse program; hetsy gedurende die skooldag of buitemuurs.
Verskeie kuns en kultuur aktiwiteite word aangebied. Musiek, drama, dans en kuns word aangebied en hieruit vloei konserte, Eisteddfod, uitstallings en optredes. Ons glo dat deelname aan kultuur aktiwiteite ‘n positiewe selfbeeld asook emosionele intelligensie help ontwikkel.

MUSIEK
Individueel
Ontluikende musikante ontvang allerlei geleenthede om aan die een of ander musiekvorm deel te neem.
Onderrig word aangebied in die volgende instrumente:

  • Blokfluit
  • Kitaar
  • Klavier
  • Viool
  • Musiekteorie
  • Ukulele

Musiekleerlinge word die geleentheid gegee om aan kompetisies deel te neem en voor gehore op te tree. Kamerkonserte word op ‘n gereelde basis gehou om sodoende leerders aan kleiner gehore bloot te stel. Informele optredes by ouetehuise en kerke vind plaas om die diens aspek van musiek uit te lig. Daar word ook jaarliks twee musiekkonserte in die skoolsaal gehou.
Daar is geleentheid om in te skryf vir eksterne eksamens van Unisa, Royal Schools of Trinity College asook die Eisteddfod. Talle leerders se name pryk op die ererol van UNISA.
Ons musiekleerders word gereeld deur hoërskole geprys aangaande die goeie musiekbasis wat hul by Laerskool Aristea ontvang het.

Slagorkes
Hier word die leerders die basiese beginsels van samespel geleer. Die slagorkes tree by Eisteddfods, konserte, kultuurfeeste, kerke en ouetehuise op.
Laerskool Aristea spog met die beker vir die beste Gr. 4 – 7-kinderorkes, asook vir drie agtereenvolgende jare, met die beker vir die oorspronklikste orkes.

Koor
Ons skool het twee kore nl. Junior koor (Gr 1-3) wat tans uit ongeveer 70 lede bestaan en ‘n Senior koor (Gr 4-7) met naastenby 90 lede. Leerders moet oudisies aflê om sodoende tot die koor te kan toetree. Die Junior koor oefen Donderdae vanaf 07:30 tot 08:30, en die Senior koor oefen Dinsdae vanaf 07:30 tot 08:30.
Die kore tree by koorfeeste, kultuurfeeste, kerke, Eisteddfod en skoolfunksies op.
Koorsang bevorder en vereis dissipline.

Kontakpersoon:
Hoof van Musiek Akademie: Mej. E de Wit
E-pos: edewit@aristeaprimary.co.za

EISTEDDFOD
Ons skool neem jaarlike aan die Tygerberg Internasionale Eisteddfod deel. Ons deelname strek oor ‘n wye aantal kategorieë, o.a. individuele lees en voordrag, solosang, blokfluit, kuns, handskrif, onvoorbereide lees, koorsang, musiekitems, spreekkore asook gedramatiseerde groeplees.
Laerskool Aristea het oor die jare al verskeie kere die beker vir gedramatiseerde groeplees, slagorkes, asook spreekkoor, verower.

DRAMA
Dramaklasse word aan Gr. 4 – 7-leerders gebied en vind een maal per week, in die middae, plaas. Dit vind onder die bekwame leiding van ons eie Drama personeellede plaas. Leerders geniet hulself gate uit terwyl hul meer oor gesigsuitdrukking, stemprojeksie, antisipasie, lyftaal, e.s.m. geleer word. Die doel van die drama is om leerders selfvertroue, kreatiwiteit, korrekte stemgebruik en stimulering van die verbeelding te bied waarmee hulle die grootmenswêreld kan betree. Leerders leer deur die jaar om met selfvertroue en gemak voor ‘n gehoor op te tree. Dus word hierdie leerders gemaklik by skoolkonserte in individuele rolle aangewend. Hierdie leerders vorm ook ‘n spreekkoor wat jaarliks aan die Tygerberg Internasionale Eisteddfod deelneem.

Privaat dramaklasse: Isabel Byers
Gr. R – 3-leerders het die voorreg om by hierdie privaat dramaklasse aan te sluit. Dit vind twee maal per week, na skool, by Laerskool Aristea plaas.
Hierdie spraak en drama platform word gebruik om selfvertroue en kommunikasie te bevorder. Leerders se woordeskat word verbreed terwyl hul verbeelding vrye teuels kan geniet.
Kontakpersoon: Farahan by (021) 300 0325
E-pos: info@isabelbyers.com
Webtuiste: www. isabelbyers.com

MODERNE DANSE, HIP-HOP & BALLET
Moderne danse, hip-hop en ballet is baie gewild onder Gr R – 3-leerders en word deur Mev. Hanlie du Toit aangebied. Sy gebruik een maal per week ‘n lokaal van Laerskool Aristea om hierdie dansvorme te onderrig.
Navrae kan aan die kantore van Laerskool Aristea gerig word.

KONSERT
Laerskool Aristea hou jaarliks konsert. Dit wissel van ‘n Grondslagfase, Intermediêre Fase, of heelskool konsert. Die konsert sluit teks en danse in wat by ‘n tema aansluit. Leerders kry die geleentheid om hul kreatiwiteit ook op kultuurvlak uit te leef.

KUNS
Die leerders van Laerskool Aristea is bevoorreg om kunsonderrig deur twee baie bekwame personeellede te ontvang. Kuns vorm deel van die vak Lewensoriëntering wat die riglyne daarvoor neerlê. Kreatiwiteit vier steeds hoogty en van ons leerders se werke word ook by die Tygerberg Eisteddfod se kunskompetisies ingeskryf.

TYGERBERG INTERNASIONALE EISTEDDFOD
Laerskool Aristea is goed daarvoor bekend en was tot onlangs die gasheerskool vir die Afrikaanse been van die Eisteddfod.
Soos reeds hierbo vermeld neem ons leerders in verskeie afdelings van die Eisteddfod, in beide Engels en Afrikaans, deel. Ons kan met trots noem dat ons leerders veelsydig is en in vele kategorieë hul merk maak. Goeie prestasies en persentasies word jaarliks behaal.

NATUURKLUB
Laerskool Aristea het sedert 2015 ‘n voëlklub waar klublede meer leer oor die uitkenning en benaming van verskillende voëlspesies. Vasvra kompetisies word in die Wes-Kaap gehou en talle uitstappies en kampe vind plaas. Laerskool Aristea is trots om te kan sê dat ons 58 voëlkykers opgelei het sedert ons ontstaan in 2015.

Hierdie jaar word ons horisonne verbreed en die leerders word aan talle ander aspekte van die natuur bekend- en blootgestel om sodoende beter waardering en kennis oor die natuurlewe te ontwikkel.

FOTOGRAFIEKLUB
Laerskool Aristea het in 2016 ’n fotografieklub in die lewe geroep. O. m. word opleidingsessies gehou om sodoende deelnemer-fotograwe ‘n fyner oog te laat ontwikkel. Gereelde uitstappies en kampe bied praktiese leerervaring. Talle foto’s van klublede het al prestasies by die Eisteddfod behaal.

Laerskool Aristea is trots om te kan meld dat 54 aspirant fotograwe hul visie by die fotografieklub gekry het. 12 Fotografielede behoort die jaar tot die klub.

Die lede neem deel aan PSSA (Photographic Society of South Africa) se salonne. Aristea se klub behoort aan die Fotografie Vereniging van Suid-Afrika waar hoë suksessyfers by kompetisies op provinsiale, nasionale en internasionale vlak behaal is.

Die klub bied voorwaar ‘n geleentheid aan elkeen wat ‘n wenfoto wil neem!

Kontakpersoon: Natuur- en fotografieklub
Klub-organiseerder: Mej. E de Wit
E-pos: edewit@aristeaprimary.co.za