Laerskool Aristea

Mnr. Werner Ebersohn – Skoolhoof

Mnr. Werner Ebersohn het op 1 Januarie 2020 skoolhoof by Laerskool Aristea geword. Mnr. Ebersohn is ‘n man wat baie passievol is oor mense, sport en lees. Hy is ‘n veelsydige leier en het vroeg in sy lewe leierskaprolle vervul. “Ek was die kaptein van byna al die sportspanne waarvoor ek al gespeel het,” sê hy. “In 1997 is ek bevorder tot Departementshoof by Laerskool Staatspresident Swart in Kimberley. In 2004 is ek as departementshoof by Laerskool Totius aangestel en in 2009 is ek as adjunkhoof van Wolraad Woltemade aangestel.” In 2018 is hy as die adjunkhoof by Laerskool Aristea aangestel. Hy het ’n 3-jaar onderwysdiploma aan die Onderwyserskollege in die Paarl voltooi, sy BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat en in 2014 het hy ’n Gevorderde Onderwyssertifikaat: Leierskap en Bestuur aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.

Mnr. Ebersohn handhaaf ‘n gerespekteerde optrede teenoor mense. Hy glo daaraan om almal ‘n regverdige kans te gee. Hy is vriendelik, hardwerkend en lojaal teenoor Laerskool Aristea en die gemeenskap. “Ek gee altyd my beste, al is dit soms ten koste van myself.” Op skool het hy op verskeie gebiede uitgeblink. “Ek was soos die Engelse sê ‘n ‘allrounder’.” Hy het die hoofrol in ‘n drama gespeel, in die koor gesing en ook aan die Geskiedenisklub behoort. Hy het rugby, atletiek, hokkie en krieket gespeel. “Op die krieketveld het ek van laerskooldae af uitgeblink en vanaf Graad 8 in die 0/19A-span gespeel.” Mnr. Ebersohn het na skool eersteliga klubkrieket gespeel, eers vir OKP in die Boland-liga en daarna vir Wes-Einde Krieketklub in Kimberley. Hy het jaarliks trofeës en pryse gewen.

Mnr. Ebersohn is getroud met Elmarie Ebersohn. “God het ons ongelukkig nie met kinders geseën nie, maar ons was geseën met baie hondekinders. Zoë en Milla, ons twee Jack Russel Terriers is deel van ons gesin en bed.” Deur die jare het Elmarie se ouers en sy eie pa ook deel van hul huishouding geword en dit was vir hom ‘n eer om na hulle om te sien. Hy speel graag gholf en het verskeie kompetisies gewen. “Gholf hou my nederig en ek geniet die tyd wat ek in die natuur kan deurbring.” Mnr. Ebersohn sien homself ook as ‘n wêreldreisiger en wil die wêreld verken. Hy en sy vrou het op Phuket verlief geraak. “Die eenvoud waarin mense leef maak jou dankbaar vir wat jy het en hul vriendelikheid is aansteeklik.”

Mnr. Ebersohn se boodskap aan ouers is dat hulle mekaar moet ondersteun en die onderwysers sal respekteer, asook dat hulle mekaar se uniekheid sal aanvaar. “Ek wil graag hê ouers moet te alle tye lojaal wees en die skool ondersteun.” Hy noem dat ouers altyd moet onthou dat dit wat hulle doen en sê ‘n invloed op die denke van die kind gaan hê. “Jong kinders is maklik beïnvloedbaar en ‘n mens moet dus die regte waardes aanleer terwyl hulle nog jonk is.” Sy boodskap aan leerders is dat hulle altyd bereid moet wees om die reëls te volg en net hulle beste akademies sal lewer. “Weet dat by Laerskool Aristea dra ons jou beste belange op die hart.” Hy herinner leerders om altyd te dink voor hulle iets doen, aangesien die keuses wat hulle vandag maak hulle toekoms sal bepaal.

Mnr. Ebersohn glo dat God hom by Laerskool Aristea geplaas het. “Aristea is ’n skool vol diversiteit en my droom is dat ons ’n opvoedkundige instituut sal wees wat ’n voorbeeld van verdraagsaamheid, spanwerk en nasiebou is.” Sy visie vir Aristea is om ‘n skool te wees wat met tyd beweeg, veral tegnologies, sodat ons goed toegeruste leerders in die ontwikkelende wêreld kan stuur. “Ek wil ’n skool hê waar leerders en onderwysers gelukkig is en tuis voel.” Hy het ’n duidelike visie dat Laerskool Aristea sal kan meeding met die beste skole ter wêreld.